11 Januarie 2016

Nuwe jaar, nuwe hoop

Dis 'n nuwe jaar,  en nuwe drome.
Ek kyk by die venster uit en sien twee drome by die krip en ek strem my oge om te sien of daar nie dalks 'n babatjie of twee afgelaai is nie.
Sable's steek hulle baba's weg, so ons sal eers later uitvind van die baba's. Maar miskien as ek mooi kyk  sal een maerder lyk.
Maar dis 'n droom. Begin by twee wat hopelik twee vers-vullens sal lewer, wat oor 'n paar jaar weer kan vullens he, en so kan dit stukkie vir stukkie aankom.

Die veld lyk nog nie te sleg nie, en dit maak mens skuldig voel oor almal so paniekbevange rondval oor die erge droogte.
Maar alhoewel die veld goed lyk, is dit net 'n stukkie van die storie.  Sonder reën, sal ons beswaarlik die winter kan ingaan. Hoe sal die veld daaruit-sien teen vlge jaar Januarie, wanneer ons reën seisoen tradisioneel eintlik begin?
Die ding wat ons met MEER erns in die gesig staar is die vlak van ons dam.  Tans is daar sekerlik net water vir nog so 2 weke, AS pappa-beer die pyp verleng om in die laaste oorblywende poel in die middle van die rivier-bed uit te pomp.
So ons lusern leef nog lekker, en ons kan nog 2 snysels afhaal, maar daarna????
 Dan is dit oor op Gods-genade.
En 'n paar goeie buie hier sal seker verligting bring, maar gaan nie ons dam volkry nie. Dit sal die veld red, maar nie die inkomste nie.
Dit moet in die voorwereld ordentlik reen, voordat ons vrylikker kan asemhaal.

Tog: Dan ry mens Sondag v'by ander se plase oppad kerk toe, en sien al die sirkels wat normaalweg onder besproeing is, en nou staan en verbrand in die son.
Dan weet jy: Dis nie altyd groener anderkant die drade nie. En jy weet: Jy hoef net om jou te kyk om te besef jou problem is nie die grootste onder God se skepping nie. Ander trek swaerder as jyself.
Jy weet al die kontrei boere se nuwe implimente staan in store, jy sien al die onberwerkte sirkels, jy sien  nuwe trokke en trekkers, en jy weet daardie aankope was gedoen op somme, gebasseer op die huidige (historiese) welvaart, en vaste kontrakte (wat skaars soos hoendertanni is), en dit het NIE voorsiening gemaak vir geen verdure oeste tot die damme weer vol is nie.
Jy weet bosvelders worry meer as jyself. Jy weet bosvelders kan onmoontlik nie daai paaiemente bybring sonder  oeste nie, sonder water nie. Jy weet bosvelders gaan  kontrakte verloor.  Inkomste... Drome.

En dan sien mens die twee pragtige Sabels (soos manlief na hulle verwys), en daar is darrem 'n stukkie tasbare iets om aan vas te hou. Die slimmes reken immer dis 'n belegging.... So al krippeer al die beeste dan nou van hongerte, en al vrek die lusern... hopelik aan die einde van dit alles, het ons nog die beleggingkie.
Ons kan darrem onself aan die lewe hou met 'n groentetuin, en maer beeste eet. Ons het darrem nie nuwe implimente of karre of trokke se paaiemente om te betaal nie. Ons het darrem nie somme gedoen in die mooiweers jare nie. Ons wou nog nooit ryk wees nie. Net lewe.

Lewe sal ons lewe.

Pappa-beer was laasnag veglustig met my, en ek was tot diep die middag in nogsteeds gekrenk, maar as k die kopding uitgesorteer het, dan is die kaap weer hollands. Pappa beer het net mamma beer om frustrasies op uit te haal. Ons speel mos virrie selle span. So ek sal die minste wees.
Ek sal nie weer enige iets op my betroubare en alomteenwoordige spreekbuis -FB uitlap nie. Blykbaar wis die hele aarde van ons toiletroetines so 'publiek' is ons????.   Ek wis egter nie dat ons eintlik geheime agente was, wat als in die geheim doen nie. Ek wis ook nie dat daar 'n sekere protocol aan verbonde was om die val van reen aan te kondig nie.
Op die einde van die dag kan ek nie presies die reels opgesom kry nie, so ek het papa-beer unfriend, asook al sy kenisse. Ek weet nie van 'n reel dat jou eggenoot jou 'friend' moet wees op fb nie? Ek het getrou vir 'better and for worse'. Nie vir FB nie!  Ook nie vir 'n redakteur nie.


Dus: my gehoor skuif: ek blog nou en fb nie meer nie. Die wat intelligent genoeg is om te verstaan dat 'n aankondiging soos; 'Dit Reën', nie beteken die vloede is op ons nie, is welkom.  DIe wat kan verstaan dat dit ook nie beteken van die reën het inderdaad 'in' die reënmeter ingeplons nie, is ook welkom. 'Dit reën' beteken inderdaad net dat dit reën. NIe hoefeel of hoe lank of hoe hard en of ons nou 'gered' is of gedoem is nie. Dis eenvoudig.
Dit reën. Daar val water uit die hemel, ek hoor dit op die dak. Ek voel dit aan my lyf, my rok was papsopnat van die 'reën'.  My enigste fout was dat ek nie goedkeuring gevra het om die aankondiging te maak nie.

Maar ek's die minste, ek gaan nie verder met pappa-beer redineer oor die geldigheid of ongeldigheid van my stelling nie. Ek lief vrede. Bloot my stelling gedelete. So die wat dit gelees het, en dit nou vermis.... Dit het ophou reën. Dit het nie veel gereen nie. Maar dit HET gereen!.
 Ek deel nou die 'reën' met 'n onsigbare gehoor. Ek maak niemand opgewonde of depresief nie. Ek maak bloot 'n stelling.
Die stof het gaan le, die lug ruik skoon, die hitte het gebreek en die hemel le dig van die wolke. Dis net so 'anders' as die ongenadige son wat andersins op jou neerklits nie.

My bui sal hopelik later vanmiddag in mooi weer verander sodra die perd opdaag. Al is pappa beer soms onredelik (volgens MY en nie volgens pappa-beer nie), is sy hart goed. Teen alle verwagting in, het hy ingestem vir die perd.

Dis 3 jaar nou wat ek my pragtige Friese v'koop het. Danksy tyd, finansies, en ander drome.  Ek sal nogsteeds altyd 'n sagte plekkie vir die koning van die perde hê, maar heelaas, dis 'n rykmansperd, en ek is nie in daai klas nie. Om daai hare so te hou, en hulle SWART te hou (vs Bruin) moet hulle permanent gestal wees, stalle moet skoongemaak word, voer moet aangekoop word, hulle moet geroskam en gevleg word.... Tyd en geld wat gewone mense soos ons nie het nie. So ek is dankbaar dat ek vir 'n rukkie daai droom kon leef, en miskien was dit nodig om vir myself uit te vind wat doenbaar is en nie.

Ons is gewone mense. Gewone mense doen baster perde wat al die rystyle ken, wat nie oor goed kan spring nie, want low maintenance is, en nie heledag gebaba en gebad hoef te word nie, wat op die veld kan leef, en wat GEWOON is.

So blink Stefaans is so gewoon soos kan kom. Tot sy prys was gewoon. Hy verstaan gewone kinders, en gewone mense. DAar is niks hoogdrawends of aanstellerig aan hom nie. Hy is vaal soos die landskap. Darrem nie wild soos die bosse nie.

Vanmiddag kom Blink Stefaans. Nuwe jaar. Nuwe drome, nuwe perd!